ⓘ Natufiese kultuur

                                     

ⓘ Natufiese kultuur

Die Natufiese kultuur is ’n argeologiese terrein uit die laat Epipaleolitikum wat omstreeks 12 000 tot 9 500 v.C. of 13 050 tot 7 550 v.C. in die Levant bestaan het. Die kultuur was ongewoon in die sin dat die mense ’n sedentêre of halfsedentêre leefstyl gehandhaaf het selfs voor die ontwikkeling van landbou.

Die Natufiese gemeenskappe kan die voorouers wees van die bouers van die eerste Neolitiese nedersettings in die streek, wat die oudstes ter wêreld kan wees. Die Natufiers het ’n nedersetting gestig in wat vandag Jerigo is, en dit kan die langs aaneenlopend bewoonde stadsgebied op aarde wees. Daar is bewyse van die kweek van graan, veral gars, by Tell Abu Hureyra, die terrein met die eerste bewyse van landbou in die wêreld. Die oudste tekens van die maak van brood is gevind by Shubayqa 1, ’n 14 500 jaar oue terrein in Jordanie se noordoostelike woestyn. Die oudste bewyse van die maak van bier, omstreeks 13 000 v.C., is ook by die Raqefetgrot naby Haifa in Israel gevind.

Oor die algemeen het die Natufiers egter met wilde graan geeksperimenteer. Diere wat gejag is, sluit in gaselle. Volgens die Amerikaanse antropoloog Christy G. Turner II is daar argeologiese en fisiese antropologiese bewyse vir ’n verhouding tussen die moderne Semitiessprekende bevolkings van die Levant en die Natufiers.

Argeogenetici het onthul latere Levantyne Neolities tot Bronstydperk stam hoofsaaklik van die Natufiers af, benewens ook van die Chalkolitiese Anatoliers Kopersteentydperk.

Die Engelse argeoloog Dorothy Garrod het die term "Natufies" begin gebruik gebaseer op haar uitgrawings by die Shuqbagrot Wadi an-Natuf in die weste van die Judeagebergte.

                                     

1. Ontdekking

Die Natufiese kultuur is deur die Engelse argeoloog Dorothy Garrod ontdek tydens haar uitgrawings in die Shuqbagrot in die Judeagebergte aan die wesoewer van die Jordaanrivier.

Voor die 1930s was die grootste deel van die werk in Brits-Palestina Bybelse argeologie wat op historiese tydperke gekonsentreer het, en min was bekend oor die streek se voorgeskiedenis. In 1928 het die Britse skool vir argeologie in Jerusalem Garrod genooi om uitgrawings te doen in die Shuqbagrot, waar ’n Franse priester, Alexis Mallon, vier jaar tevore prehistoriese klipwerktuie ontdek het. Sy het ’n laag ontdek tussen die Bo-Paleolitiese en Bronstydneerslae wat gekenmerk is deur die teenwoordigheid van mikroliete. Sy het dit geïdentifiseer as behorende tot die Mesolitikum, ’n oorgangstyd tussen die Paleolitikum en Neolitikum. Dié neerslae was bekend in Europa, maar is nog nie tevore in die Nabye Ooste ontdek nie. ’n Jaar later, toe sy soortgelyke materiaal by el-Wad Terrace ontdek, het Garrod die naam "Natufiese kultuur" voorgestel, genoem na Wadi an-Natuf naby Shuqba.

Oor die volgende twee dekades het Garrod Natufiese materiaal by verskeie van haar uitgrawings in die omgewing van Berg Carmel ontdek, gevolg deur die Franse argeoloog René Neuville. In 1931 het Garrod én Neuville aandag gevestig op die teenwoordigheid van klipsekels op Natufiese terreine en die moontlikheid dat dit ’n baie vroee kultuur was.

                                     

2. Skakels

  • Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Natufiese kultuur.
  • Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.